Goddelike kanse kom partymaal net een keer oor jou lewenspad. Daarom dat die vriende van die lam man in Markus 2 op ‘n dag behoorlik radikaal geraak het. Hulle het besluit om Petrus se woonhuis in Kapernaum se dak af te breek om hulle verlamde vriend tot voor Jesus se voete te laat afsak. Praat van ekstreem! Hulle kon egter nie anders nie. Môre kon Jesus dalk weg wees. Dan was die kans van ‘n leeftyd daarmee heen om hulle siek vriend aan sy voete neer te sit.
Jesus kon op sy beurt ook nie anders as om kennis te neem van hulle dapperheid nie. Toe daardie dak bokant sy kop begin verkrummel en stof en boumateriaal op almal begin val, was hulle en die verlamde man meteens binne sy persoonlike ruimte en in sy gesigsveld. Dit is radikale geloof. Dit is wat gebeur wanneer mense net een dag op ‘n slag tot hulle beskikking het om die wêreld te verander, of om ander te help. Dan moet dakke afgebreek word. Dan tel fatsoenlikheid en sulke dinge niks. Al wat dan saakmaak, is dat lewens deur Christus aangeraak word. Verstaan jy uit ondervinding waarvan ek praat, of is dit maar net Bybelkennis? Groete Jy het veel meer waarde as wat jy ooit besef “Good night you princes of Main; you kings of New England.” So het die dokter in “The Cider House Rules” (gespeel deur Michael Cain) vir die weeskindertjies in sy tehuis gesê as hy hulle nagsê. Vir hom was hulle nie net ‘n klompie verstote kinders iewers op die rand van die samelewing nie. Hulle het veel meer waarde gehad as wat die samelewing aan hulle toegeken het.
Ons elkeen ken iemand wat op een of ander stadium ‘n stukkie potensiaal in onsself raakgesien het — ‘n onderwyser, ‘n afrigter, ‘n leraar. Hulle het die toekoms in ons raakgesien. Hulle het ons aangemoedig toe niemand anders dit gedoen het nie. Hulle het ons vorentoe gevat omdat hulle in 1 Korintiërs 13 se taal die beste van ons gehoop en geglo het. Sulke mense is skaars. Te veel mense trap op mekaar. Uitdrukkings soos: “Jy’s te dom om iets met jou lewe te maak,” of: “Jy is lui, lelik, of oorgewig,” laat diep wonde op ander se lewens. Genadiglik is God nie soos ons nie. Hy gee vir ons wat ons nie verdien nie, naamlik nuwe lewe. Genade is ‘n nuwe oorbegin en voorbegin in die koninkryk van God. God se genade het net een Naam en Adres: Jesus Christus. Hy verander elke slegte Eksodus wat ons ooit beleef het in ‘n nuwe Genesis. God wat aan die begin lig uit donker geskep het, skakel ‘n nuwe lig in ons lewe aan as ons Christus in die oë kyk, soos wat Paulus in 2 Korintiërs 4 skryf. God verander stukkendes in geliefde kinders. Hy verander dooies in lewendes. Hy gee vir mense met ‘n slegte verlede ‘n skitterende nuwe toekoms. God omskep waardelose mense tot lewende juwele in Sy hand. Wat ‘n ontdekking om te besef dat jy veel meer waarde het as wat jy ooit besef. In God se oë dra jy die ewigheid met jou saam. O ja, om in Jesus te glo, is om daardie potensiaal in ‘n permanente realiteit te omskep. Vrede Stephan Joubert Vergeet van “hulle” Op 15 September 2004 het Andrew Wilson van Branson in die Amerikaanse staat, Missouri, sy naam na “They” verander. Hoekom? Wel, in Engels praat mense graag van “they.” “They did this and they did that.” In Afrikaans sê ons ons dikwels ook “hulle” het dit gedoen, of “hulle” het dat gesê. Andrew wou toe maar net namens “they” die verantwoordelikheid vat. Dit is hoekom hy vandag as “They” bekendstaan.
Ek wonder wat sal gebeur as ons regtig verantwoordelikheid vir onsself voor God en ander mense begin aanvaar? Wanneer ons nie ander blameer vir alles wat verkeerd is nie, maar begin om ons eie kant te bring soos wat die Here van ons vra... As ons net daardie paar sentimeter beman (of bevrou!) waarvoor die Here ons verantwoordelik gemaak het, dan sal die wêreld een sentimeter op ‘n keer anders wees. Dieselfde sal gebeur as ons ophou om oor “hulle” te skinder agter “hulle” rug. Of as ons die eerlike roete aandurf om vir “hulle” wat droogmaak in “hulle” gesig beleefd daaroor aan te spreek. Dan is daar baie minder van “hulle,” en veel meer “ek” en “ons” wat met integriteit voor God leef. Wie weet, dan sal Andrew Wilson dalk weer sy naam na “I” of “us” moet verander. Vrede Stephan Joubert Kry die regte opskrifte voor slaaptyd in plek Onlangs lees ek ‘n paar interessante inskripsies op grafstene raak wat iemand op die internet versamel het. Hoor dié een: “Here lies Mary Smith. Silent at last.” Of: “Here lies an atheist. All dressed up. And no place to go.” Of dié een van ‘n man wat uiteindelik “berus” het: “Here lies my wife. Here let her lie! Now she's at rest. And so am I.” Toe ek dit met iemand deel, sê hy ons almal werk tans aan ons laaste aardse opskrifte. Sal mense van ons sê, nadat ons op ‘n dag ons heel laaste asems uitgeblaas het, dat ons die wedloop op Christus se baan enduit gehardloop het? Sal hulle weet dat ons die wenstreep bereik het in Sy Naam?
Toe dink ek by myself ons het nie die “luukse” om tot na ons dood te wag voordat die regte inskripsies bo-oor ons lewe weerklink nie. Ons gaan in elk geval nie daar wees om dit te hoor of lees nie. Voordat jy my verkeerd verstaan, natuurlik moet ons werk aan ‘n nalatenskap van integriteit, maar die lewe gebeur hier en nou. Vandag nog voor slaaptyd moet ons sorg dat die regte hoofopskrifte bo-oor ons lewe verskyn. Paulus het hierdie beginsel goed verstaan. Hoor net ‘n paar van die opskrifte wat hy bo-oor sy eie lewe geskryf het: “Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg” (1 Kor 11:1). “God is vir ons, wie kan dan teen ons wees” (Rom 8:31). “Om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins” (Fil 1:21). “Die Here sal my red van elke onheil en my behoue in sy hemelse koninkryk bring” (2 Tim 4:18). Watter een-lyn waarheid sou jy vandag bo-oor jou lewe wou skryf? Nou toe, waarvoor wag jy? Skryf dit neer en vertel dit dadelik vir jou hart, kop, hande en voete! Ek onthou my ouma het altyd ‘n waslagie bo-op die konfyt geplaas wat sy gekook het. “Dis om die konfyt te preserveer,” het sy verduidelik. Lyk my, as party mense deesdae bid: “Bewaar my Heer,” dan bedoel hulle ook iets soos: “Preserveer my.” Om kos te preserveer, is om dit veilig en vars te hou tot by die vervaldatum. Sommiges wil hê die Here moet dieselfde met hulle doen. Hy moet hulle ongebruik en ongetoets deur die lewe laat gaan. Hulle moet ongeskonde by Hom aankom as hulle aardse rakleeftyd verstryk het.
Paulus wou nooit hê God moet hom preserveer nie. Vat maar daardie keer toe die profeet Agabus in Handelinge 21 kom vertel dat hy in Jerusalem gevang sou word. Paulus se helpers het dadelik besluit dis nie God se wil dat hy soontoe gaan nie. Toe verduidelik Paulus vir hulle dat hy nie net bereid is om Jerusalem toe te gaan nie, maar om ook daar vir die Here te sterf, as dit moet. Hy was ernstig daaroor dat die Here hom kon opgebruik hier op aarde. Dit het nooit gegaan oor sy eie preservering of selfbehoud nie. Paulus was op aarde om deur die Here en ander opgebruik te word. Terloops, jy en ek ook! Groete Stephan Joubert Stilte is God se eerste taal. So het Johannes van die Kruis in die sestiende eeu gesê, as ek my feite reg onthou. Hierdie stilte is nie gelyk aan passiwiteit, niksdoen of rondsit as dit oor God gaan nie. Inteendeel. Stilte is om leeg van jouself te word sodat jy vol kan word van die Here. Laat ek dit nog duideliker sê, leegword is nooit 'n doel op sigself nie. Stilword beteken om leeg te word van jou eie arrogansie en van al die geraas in jou en rondom jou sodat jy kan vol word van die Here se teenwoordigheid. Stilword is om jou rustelose hart en jou besige kop aan die Here se voete neer te lê. Dis om jou woorde minder te maak sodat jy die Here se teenwoordigheid kan hoor!
Hoor weer, leegword is nooit genoeg as jy God se heilige stilte deelagtig wil word nie. Dit gaan oor 'n aanhoudende vol-word van God se Gees. Daarom dat jy jou oorvol lewe tot stilstand moet bring by die kruis van Christus sodat jy behoorlik leegheid (van jouself) en volheid (in God) kan vind. Daarom dat jy moet stilword om God se stilte te hoor! Vrede Stephan Joubert Jesus is toe nie die supplement of aanvulling nie; Hy is die enigste Pad! Ons mag dalk ons godsdienstige aktiwiteite met groot oorgawe uitvoer, maar die kans is nogtans goed dat ons diep ongelukkige mense is. So skryf Hannah Whitall Smith in: The God of all Comfort. Maar dan voeg sy by: "Nothing can set our hearts at rest but a real acquaintance with God." Godsdiens is nie gelyk aan God-diens nie. Om rus aan die Here se voete te vind, is iets anders as gedurig om rond te hardloop van een godsdienstige plig na die ander. Om van vroeg tot laat besig te wees in God se diens is nie die sleutel tot Sy vrede nie. Ware rus tref jy net aan as jy kort op die hakke van die regte Persoon op die regte pad leef.
Die naam waarmee na die eerste Christene verwys is, is: "mense van die pad;" "people of the Way." Aangrypend! Ander mense het agtergekom Jesus se volgelinge leef op 'n nuwe roete: Christus S'n! Ons hou nie maar net 'n klomp godsdienstige reëls nie; ons volg die lewende Here. Hy is ons eksklusiewe nuwe roete. Eugene Peterson stel dit aangrypend: "Jesus is an alternative to the dominant ways of the world, not a supplement to them." Nee, Jesus se Roete is nie aanvullend nie. Hy is nie soos 'n vitamine aanvulling as ons daaglikse kos te min voedingswaarde bied nie. Hy is nie die ompad as ons normale leefroetes nie behoorlik uitwerk nie. Hy is ook nie die noodwiel as ons ander lewenswiele pap is nie. Christus is eksklusief. Hy vervang al die ander leefroetes waarop ons rondgedwaal het. Hy oorroep ons ou, uitgediende maniere van dink en doen. Daar is rus op Sy pad. Dit is met hemelse vreugde geplavei! Leef daarop en sien! Party mense se lewe is ‘n voltydse kompetisie. In die verkeer moet hulle eerste by die volgende verkeerslig stilhou. In enige ry moet hulle voor staan. In elke eksamen moet hulle onder die top tien eindig. Elke gesprek is vir hulle ‘n geleentheid tot debat wat ten alle koste gewen moet word. As iemand iets beter as hulle doen, dan word hulle grasgroen van jaloesie. Maar as hulle aan die wenkant is, dan loop hulle oor van hulleself. Dikwels gebeur sulke kompetisies openlik, ander kere gebeur dit agter die skerms. Tog weet jy altyd as kompeteerders jou uitgekies het as hulle nuutste teiken. Hulle wil gedurig weet hoe jyself “presteer.” Die oplossing? Moenie deelneem nie.
Die Here het jou ‘n mens in eie reg gemaak. Jy hoef jouself nie gedurig te bewys nie, veral nie teenoor kompeteerders nie. Wees tevrede met wie en wat jy is. Die Here het jou immers jy gemaak! Jy is uniek — soos wat Psalm 139 leer. Gaan leef jou talente en sterkpunte op unieke maniere uit. Solank as wat jy aan ander se verwagtings probeer opleef of met hulle kompeteer, gaan jy slegs die tweede beste jy wees. Die kompetisie is in elk geval verby. Vrede Stephan Joubert Die meeste nuwejaarsvoornemens hou gewoonlik nie lank nie. Hoekom nie? Wel, die slim mense sê dat as goeie voornemens nie binne 72 uur vanaf teorie na praktyk verwissel nie, dan is dit ’n oefening in tydmors. Dan kan ons net sowel nie daardie besluite gemaak het nie. Die wagwoord is dus aksie! Dit klink vir my al te veel na die Bybelse boodskap ook.
Jakobus 1:22-23 sê dat goeie besluite sonder die regte dade leeg is. Dis net so goed as om in ’n spieël te kyk en dadelik te vergeet hoe jy lyk as jy wegstap. (Lyk my dit kom baie mense oor, te oordeel aan hoeveel spieëls daar in ons huise en winkels is!) Geloof in Chirstus wat nie dade word nie, is dooie geloof. Kom ons besluit daarom vanjaar om elke dag die regte kortpaaie vir ons geloof te soek: — Kom ons maak ’n vaste voorneme om in 2013 minstens een les te neem uit elke preek wat ons hoor en dit binne 24 uur te implementeer. — Kom ons bid elke dag vir minstens een ander persoon by die naam. — Kom ons dra elke week minstens een ander persoon se laste. Kom ons begin nou dadelik hiermee! Die wêreld is ’n selfsugtige mengelmoes van mense. Elkeen leef vir hom- of haarself. “Me, myself, and I” is al wie saakmaak! “What’s in it for me?” — dis die vraag wat almal vra wat slagoffers is van die groot siekte van ons tyd: EK-SUGTIGHEID! Die Here se mense durf nooit ek-sugtig leef nie. Dit bots lynreg met die Evangelie. Jesus se aardse lewe was van begin tot einde gefokus op God se eer en ander mense se nood, nooit op Homself nie. Jesus het gekom om God se koninkryk aan uitgeworpenes, godsdienstige mislukkings en verlorenes bekend te maak. Daarom dat Hy bereid was om vir meer as 30 jaar lank sy hemelse glorie op te offer vir ’n nederige aardse bestaan en vir Palestina se harde klippe as kopkussings. Jesus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek by die kruis as die grootste sondaar denkbaar behandel sodat ons wat in Hom glo vrygespreek kan wees (2 Kor 5:17-21; Fil 2:6-11). Wat ’n lewe van selfloosheid, opoffering en omgee vir ander het Jesus nie hier geleef nie! G’n wonder nie dat Paulus in Filippense 2:5 sê dat dieselfde gesindheid van opoffering wat in Jesus was, ook in ons moet wees. Dan sal ons mekaar met respek behandel. Dan sal ons ophou ek-sugtig leef.
|
Ana & Andre Schoonbee God uses us to motivate and encourage the body. Authors
All
Archives
June 2015
|